Verbeelding

Die verbysterende wonder van die menslike verbeelding!

Mensdom, jy sal jou wat verbeel!

Sonder ons verbeelding sou ons nie mense gewees het nie, maar masjiene.
Hoe kan ’n mens immers skep as jy jou nie vooraf kan verbeel nie...
as jy jou nie die plan kan voorstel van dit wat jy beoog om tot stand te bring nie?

VERBEEL jou jy’t geen verbeelding gehad nie. Dat jy nie die vermoë besit het om
planne te beraam of selfs nie die vaagse benul van dagdromery gehad het nie.
Dan was jy mos geen mens nie, maar ’n masjien.

’n Ryke verbeeldingskrag is juis wat ons mense die vaardige en ondernemende
wesens maak wat ons is.

Ons is immers gemaak na die beeld van ons Skepper, wat ons die wonderlike
inisiatief gegee het om self ook te skep, oftewel dinge deur middel van ons denke
en verbeeldings tot stand bring.

En dit is nie al nie. Verbeelding help ons boonop in ons verhoudings met ander mense.
Die vermoë om jou te verbeel dat jy in iemand anders se skoene staan, is baie
belangrik om jou medemens se lief en leed behoorlik te kan begryp.

“Verbeelding,” het die groot geleerde Albert Einstein eenmaal gesê, “is belangriker as kennis.
Kennis is beperk. Verbeelding kring reg om die wêreld.”

Maar eintlik omspan die menslike verbeelding nie net hierdie aardbol waarop ons woon nie,
maar strek dit onmeetlik ver tot by die vaagste grense van tyd en ruimte. Niks is vinniger as
die snelheid van lig nie—byna 300 000 km per sekonde—het die einste Einstein ons vertel,
maar die verbeelding kan in ’n oogwenk na die verste buitewyke van die heelal spring!

DAAR is natuurlik baie vorms van verbeelding en dit verskil vanselfselfsprekend van mens tot mens,
tussen mans en vroue en seuns en dogters, en van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep.

Die kind se dagdrome is byvoorbeeld baie anders as dié van die grysaard in die skemer van sy lewe.
Die jong bruidjie koester in haar verbeelding in die fleur van haar huwelik die mooiste verwagtinge,
maar die treurende...